Antoinette Schaafsma-Strydom

before_image
BEFORE
after_image
AFTER
Name: Antoinette
Surname: Schaafsma-Strydom
Location: Gauteng
Entry Date: June 28, 2024
Category: Most Beautiful
Project: Entire House

About the Project:

My ma het jare gelede ’n pragtige huisie uit die 1800’s op Richmond in die Noord-Kaap teen ’n appel en ’n ei gekoop – sommer van ’n koerantadvertensie van die ROEP-veldtog (Red Ons Eensame Platteland) af. Ons was ’n groot gesin (5 kinders) en die idee was om dit tydens vakansies as oornagplek op pad…

Read More

My ma het jare gelede ’n pragtige huisie uit die 1800’s op Richmond in die Noord-Kaap teen ’n appel en ’n ei gekoop – sommer van ’n koerantadvertensie van die ROEP-veldtog (Red Ons Eensame Platteland) af. Ons was ’n groot gesin (5 kinders) en die idee was om dit tydens vakansies as oornagplek op pad Kaap toe te gebruik. Uiteindelik het ons nooit in die Kaap uitgekom nie, want daar was altyd iets om te doen by die huisie.

Daar was geen elektrisiteit nie en ons het elke aand by kerslig geëet. My ma het water gekook sodat ons darem ’n vinnige warm bad kon kry. Later het my pa ’n rol swart pyp op die dak aangelê vir warm water – dan moes almal voor 4 nm. bad, anders waai die wind die water koud. Met geen ysterwarewinkel op die dorp nie, moes ons De Aar toe ry vir enige benodigdhede. Dan is ’n lysie gemaak en is ons almal De Aar toe vir die dag. Ek onthou nog hoe my sussie eendag gevra het om asseblief ook ’n warmwaterkraan op die lysie te sit…

Die lewe het aangegaan. Ons het grootgeword, is getroud en uit die huis. Ma het baie siek geword en die huisie het lank sonder enige kuiers gestaan. ’n Paar jaar gelede het ek Richmond besoek en na die huisie gaan kyk. Ek was geskok om te sien in watter toestand dit was: In die sitkamer het die plafon gelek; die bietjie meubels wat oor was ná ’n inbraak, het skade gely, die mat weggevrot. Een muur was besig om te disintegreer en plek-plek kon ’n mens na buite kyk. Die kombuis was gehawend. Die pleister van die mure in die badkamer het sommer so agter die muurpapier afgeval. In die gang kon jy die grond onder die vloerplanke sien. My moed was in my skoene…

Gelukkig het ons daardie tyd by Nicol en Klaradyn Grobler op die dorp oorgebly. Nicol, ’n argitek, het saam met my na die huis gaan kyk en my verseker dat die struktuur nog stewig is. Ons sou dit wel kon red. Ek, my broer en sussie het die huis uit my ma se boedel gekoop en met ’n restourasieprojek begin.

Andre West, ons boukontrakteur, het baie tyd en harde werk in die huisie geploeg. Met my in Pretoria het ons per WhatsApp begin om die huisie weer in haar oorspronklike glorie te herstel. Dit het beteken dat ons die vensters in die vooraansig van die huis moes uithaal en vervang met oorspronklike skuifraamvensters. Vandag spog die huisie met werkende vensters en pragtige hortjies. In die sitkamer het ons die verswakte muur vervang met ’n glas-dubbeldeur na die agterstoep. Dit het baie lig by die huis ingebring. Kleibaksteenmure is oorgebou waar nodig en weer gepleister. In die kombuis ons het die oop vuurherd behou en ’n klein koolstoof ingesit vir lekker Karoo-lamspotjies. Daar is nog steeds ’n deurtjie in die vuurherd vir ’n bakoond, iets wat ek later weer wil inbou.

Die badkamer is ook netjies oorgedoen; ons kon die oorspronklike bad behou en het net ’n kassie met ’n wasbak bygevoeg. Nou verskaf dié vertrek my 12-jarige oneindige genot wanneer sy kerse aansteek, die bad vol skuim maak en dan lê en fliek kyk op haar selfoon. Wat sou my ma tog daarvan sê?

In die een slaapkamer het boomwortels die sementvloer begin lig; die wortels is afgekap en ’n nuwe vloer gelê. Dit was vir my belangrik om die houtvloere te behou – ’n ou huis moet mos ’n houtvloer hê wat kraak! Die meeste vloere het net ’n bietjie aandag gekort, buiten die een in die gang, wat ons heeltemal moes vervang. Gelukkig kon ons vloerplanke koop by iemand op die dorp wat ou houtvloere laat uithaal het.

Die voordeur was in ’n gehawende toestand en omdat dit moeilik was om ’n soortgelyke deur in die hande te kry, moes ons dit stukkie vir stukkie vervang. Die stoepie voor se muurtjies is ook teruggebou. Nou verskaf dit lekker sitplek vir skemerkelkies of wanneer vriende oorkom tydens ’n straatbraai. Al die mure binne en buite is gepleister en geverf. Waar nodig is die plafonne oorgedoen; die dak buite is heeltemal oorgedoen. Die twee skoorstene is herstel en weer in ’n werkende toestand. In die winter maak ’n kaggelvuur in die sitkamer, asook ’n vuurtjie in die kombuis, die hele huis warm. Die stoepie agter is mooi uitgebou en het nou genoeg sitplek vir heerlike kuiers. Laastens het Rama, ’n plaaslike elektrisiën, elektrisiteit kom insit.

Die grootste deel van ons liefdesprojek is nou voltooi. En hopelik sal ons kinders ook eendag goeie herinneringe hê van die plek wat uiteindelik haar warmwaterkraan gekry het.

Budget Breakdown:

Materials:
Alle materiaal: Stene, sement, verf, deure, vensters, ens.
140276
140276

Contractors:

Andre West
133550
Rama (elektrisiën)
33124
166674
Grand Total
R306950