Ester Serdyn

before_image
BEFORE
after_image
AFTER
Name: Ester
Surname: Serdyn
Location: Malmesbury, Wes-Kaap
Entry Date: Jul 5, 2023
Category: Most Beautiful
Project: Bathroom

About the Project:

Ons woon, werk en droom al 27 jaar op ’n koringplaas in die Swartland. ’n Boer na hart spandeer eerder geld op sy grond, diere of implemente as aan sy woonhuis. Ná 26 jaar het my man egter besluit hy het nou ook genoeg gehad van ons pienk badkamer en ek kon dit oordoen! Vir…

Read More

Ons woon, werk en droom al 27 jaar op ’n koringplaas in die Swartland. ’n Boer na hart spandeer eerder geld op sy grond, diere of implemente as aan sy woonhuis. Ná 26 jaar het my man egter besluit hy het nou ook genoeg gehad van ons pienk badkamer en ek kon dit oordoen! Vir maande het ek op die internet geswerf, Pinterest besoek, boeke deurgeblaai en by vriendinne gaan kuier wie se badkamers oorgedoen is. Na baie lank se dink, het ek eindelik op ’n ontwerp besluit. Ek het leë kunsmissakke begin smous en skroot aangery dorp toe vir ekstra fondse, want ek wou groot gaan!

My bouer het ek op ons plaaslike dorp raakgeloop nadat hy sy werk tydens Covid verloor het. Hy het elke wens van my vervul. Volgens hom het sy naam binne twee dae na “Mens” verander, omdat ek so baie vir hom gevra het: “Kan mens dit nie dalk so doen nie?”

Ons het alles in die badkamer uitgekap en uitgedra (ek het gehelp) sodat Mens ’n skoon palet gehad het om op te werk. Die pypwerke het gebly soos dit was, omdat dit die mees praktiese en goedkoopste was in sy huidige vorm. Teëls met ’n marmervoorkoms is gekoop en vir weke lank op my grasperk uitgepak en gemeng en gepas, omdat die teëls almal verskillend gelyk het vir die natuurlike marmervoorkoms en ons dit nie te herhalend wou laat lyk nie.

My badkamerkassie is op Facebook Marketplace gekoop en my dogter het dit versier met reliëfwerk en verf. Die houtblad is vervang deur ’n marmerblad wat ek goedkoper gekry het omat dit ’n afvalstuk was en nie weer gebruik kon word nie. Dit is gepoleer en ingesny met kartelrante en hulle het dit vir my kom installeer op die plaas.

Ek het my ou bad vir my buurman gegee om van die visse wat hy teel daarin te sit. Die toilet en badkamerbykomstighede het ek gebruik in die kothuis op die plaas wat Mens toe ook vir my gerestoureer het nadat hy my badkamer so mooi gemaak het!

Nuwe badkamerbykomstighede het ek aanlyn bestel en hulle het dit gratis op die plaas kom aflewer.
My pootjiesbad het ek op die dorp raakgeloop op ’n uitverkoping en dit self aangery. Ek het slegs ’n glasskerm laat opsit vir ’n instapstort.

My groot bederf was die kristalkandelaber en reusespieël wat ek met my smousgeld gekoop het en wat Mens vir my opgesit het. Die spieël kan weer afkom, so as ek trek, gaan dit beslis saam!

Budget Breakdown:

Materials:
Bad
7651
Teëls
15614
Badkamerkassie
1800
Marmerblad vir kassie
2100
Allerlei bv. sement, slyperlemme, toebehore
4976
Krane, stortkop
10332
Wasbak
1226
Toilet
1622
Stort-glasskerm
5390
Lig
3140
Spieël
5800
Badkamerbykomstighede
3574
Vervoerkoste
700
63925

Contractors:

Sterren du Plessis alias Mens
26000
26000
Grand Total
R89925