Ilze Coetzee

before_image
BEFORE
after_image
AFTER
Name: Ilze
Surname: Coetzee
Location: Postmasburg
Entry Date: Jun 28, 2023
Category: DIY
Project: Entire House

About the Project:

In April 2022, op pad na my ouers, toer ek en my man, Johnny, so ’n bietjie deur die suide van Namibië. Oral langs die pad sien ons advertensieborde vir verblyf. Hy maak die opmerking dat ons ook so ’n gastehuis by ons op die plaas moet bou. Ek was baie skepties oor sy idee,…

Read More

In April 2022, op pad na my ouers, toer ek en my man, Johnny, so ’n bietjie deur die suide van Namibië. Oral langs die pad sien ons advertensieborde vir verblyf. Hy maak die opmerking dat ons ook so ’n gastehuis by ons op die plaas moet bou. Ek was baie skepties oor sy idee, om die minste te sê. Hy wys my daarop dat ons die vorige drie winters in die jagseisoen verblyf gebied het aan groepe jagters in die huis op ons ander plaas. My seun Roelf woon daar, maar wintermaande, terwyl hy in die VSA gewerk het, kon ons die jagters daar huisves. Roef het ná die droogte nou permanent kom boer, so dit was onprakties om weer sy huis te gebruik. Johnny noem dat ons klaar aanvraag het, maar ek is steeds nie oortuig nie. Ná nege jaar se droogte en hope droogteskuld kon ek nie sien hoe ons so ’n groot kapitaaluitgawe kon maak nie.

Terug by die huis beplan Johnny steeds onverstoord aan die gastehuisprojek. Hy besluit dat die ou klipdammurasie sowat een kilometer van die woonhuis af ideaal sou werk. Hy gesels met Roelf daaroor, Roelf stem saam dat dit ’n goeie idee is om die ou klipdam te gebruik. Hulle dink ook dat ons die huis van klip moet bou – dit is darem iets wat ons nie hoef te koop nie. Saam oortuig hulle my om net te gaan kyk. Dit is so mooi by die ou dam, ek sien in dat die plan kan werk. Ek teken rofweg ’n plan op papier; nou moet ons net ’n bouer opspoor.

Ons kom te hore van Karel Gous, wat al met klip gebou het. Hy kom kyk na wat ons beplan, ons kom ooreen oor ’n prys en hy sê dat hy oor twee weke kan begin.

Johnny begin solank vervaard vragte klip aanry met sy pa se 1976-Ford 3000-trekker en ou sleepwa. Met dieselfde trekker en ’n damskrop word ook die bousand aangery. Roelf gee solank vir my R20 000 rand waarmee ek die boubenodighede kan begin aankoop. Johnny koop 50 sakkies sement aan. (Gelukkig het ons absoluut geen benul gehad van hoeveel klippe en sement ons sou moes aanry voordat die huis uiteindelik klaar was nie.)

Op Maandag, 25 Julie 2022, begin die bouwerk. Dit raak ’n groot geskarrel om toesig te hou oor die bouers, om vragte klip, bousand en sement aan te ry en boonop voltyds te boer. Die winterdae is kort en soos dit maar met ’n bouery gaan is daar brouwerk, ophouwerk en sommer net onbeplande moeilikhede. Bouwerk aan die klipdammurasie bied ook sy eie uitdagings: Die mure moes net so breed gebou word soos die damwal; ons kon ook net deure insit waar die damwal reeds afgebreek was. Almal skarrel en werk van vroeg tot laat. Die huis wat aanvanklik uit een vertrek sou bestaan, word al groter soos ons vorder, en ’n nuwe prys moet met die bouer beding word. Die kinders lewer almal insette. Johnny voel daar moet kamers wees vir privaatheid, ek wil graag ’n binnebraai en ’n stoep hê. Ons gebruik so veel moontlik herwinde material – gelukkig is daar altyd iets op die plaas wat herbenut kan word. Ons kom te hore van ’n ou huis in die omgewing wat gesloop gaan word. Ons kry toestemming om die dakplate, ou deure en balke af te breek. Vriende dra ruimhartig by indien ons iets kort wat hulle dalk het.

Johnny rig met behulp van die bouers die dak op. Die seuns help waar hulle kan. Die bouers help om die ou kombuiswasbak en kas te verf en ook met die teëlwerk in die kombuis. Wanneer daar brouwerk is, moet dit noodgedwonge maar so bly, want met voltooide klipbouwerk word nie gelol nie!

Vragte en vragte klip later is die bouwerk eindelik klaar op 13 Oktober 2022. My tweejarige kleindogter Lisa praat van “haar bouhuis”.

Johnny begin opruim en lê solank water aan. Dit sou nog amper ses maande van selfdoenwerk verg om alles gedoen te kry. Ons arbeid op die plaas was min, ons kon net aan die huis werk wanneer die boerdery dit toelaat.

My skoonseun Johan doen die bedrading oor naweke. Skoonseun Jacques, Roelf, Johnny en my suster se skoonseun Micheal installeer die plafonne. Met dagloners word die klippe aan die binnekant met klipseëlaar gevelf. Hulle help ook om die houtplafonne en balke te sëel en te verf. Die ou deure word afgeskuur, geïnstalleer en geseël. Spieëls word aan die ou deure vasgesit. Ek bestel en sit die badkamertoebehore in. ’n Vriend, Gert, skenk ’n gebruikte JoJo-tenk, die manne rig dit op en uiteindelik het die huis water. Die “donkie” vir warm water word gekoppel. Toe eers kon ek die vloere deeglik afwas en politoer. Ek gebruik ’n outydse politoermengselresep en gee die vloere 5 lae daarvan.

Ons kry skenkings van huisinhoud. Roelf herstel en verf ou ysterkatels; die res van die meubels skraap ons bymekaar. Ek koop nuwe matrasse en ’n nuwe gasstoof aan. Danksy my dogters en ’n  vriendin se finansiële hulp kon ek die beddegoed, handdoeke, matjies en lap aankoop. Anke ontwerp ’n logo, my broer Faan en sy vrou Anneke laat maak naamborde en skenk sonpanele. Die omsetter en batterye kom per koerier aan. Johan kom installeer die sonkragstelsel.

Kort voor lank het ek al heelwat besprekings. Daar word inderhaas besluit om ’n buitebadkamer aanmekaar te slaan vir groter groepe jagters. Binne ’n week word die sinkbadkamer opgerig met oorskietsinkplate en ou windpomppype. My swaer Reitz en sy plaaswerkers kom help. Johnny, Roelf en Jacques help met die bouwerk en doen weer die waterwerke en riolering.

Ek maak die huis aan die binnekant klaar en doen finale afronding. Op die 12de Mei 2023 is alles uiteindelik in plek en op 13 Mei daag ons eerste gaste op.

Die bou van die Damhuis het my weer eens ’n paar waardevolle lewenslesse geleer: Behalwe dat die huis broodnodige inkomste verskaf, het dit ons ook ’n gesamenlike doel gegee. Ek begin besef dat dit letterlik ’n familieprojek was. Dit is met diepe dankbaarheid dat ek kan terugkyk op die proses en sien hoe dit ons lewens verryk het.

Uit die diepte van my hart sê ek vir almal wat ’n bydrae gemaak het baie, baie dankie.

Budget Breakdown:

Materials:
Boubenodighede: 9 vensters, 3 deurkosyne, 1 kombuisdeur, 1 glasskuifdeur, 3 binnedeure , 2 toilette,1 wasbak, boor 10mm/6mm, saaglem, PVC-pyp, skroefstawe, Hilties, 6-duim-spykers, plofklinknaels, skroewe, wasters, boorpunte, deurknippe, balke, ens., PVC-plafonbord en -benodigdhede, klipseëlaar, houtseëlaars, houtlym, silikoon, ens.: Buildit Postmasburg
77000.00
Gegalvaniseerde en ander pype en toebehore, koperkrane, stortbenodigdhede, sweisstawe, boute, selfsnyskroewe, Hilties, gordynstutt, ens.: Zinkcover DIY Postmasburg
5800.00
Verf, verdunner, kwaste en rollers: Vermeulens Verf
3900.00
Hoëdruklasse, koppelings, T-stukke, buigstukke en spuitverf: Kaap Agri
4500.00
Gegalvaniseerde pype, toebehore, ens. vir badkamers, aluminiumflense: DIY Shop
3200.00
Teëls, teëlsement, voegbry en kleiner items: Leroy Merlin
2700.00
Hake, stutte, ens.: Gelmar
1700.00
Elektriese kabel, toebehore, muurproppe, ligte, ens.: Tusenang Elektrical
25000.00
Spieëls: Glasfit
860.00
Glase en messegoed: Makro
3100.00
Melamienborde en -bakkies: Camp&Climb
450.00
Matrasse en gasstoof: Top Meubels
24000.00
Beddegoed: Volpes
10300.00
Handdoeke en badkamermatjie: Sheet Street
3900.00
Komberse: Mr Price Home
5400.00
Matrasbeskermers, duvets, lampskerms en skinkborde
4300.00
Sonkrag: Gert (kosprys)
23000.00
Druk van prente en foto;s: Postnet
1700.00
200810

Contractors:

Karel Gous Boukontrakteur
70000.00
Verskeie dagloners
6000.00
76000
Grand Total
R276810