John Eybers
About the Project:
Ek skryf hierdie projek in namens my pa (83). Dit het begin toe ek een Sondag noem hoe lekker dit sou wees as die ou metaal-vuurput meer sentraal kon wees, en die bestaande braaiplek eerder kan skuif na ’n ander deel van die stoep. Binne ’n week het hy ’n plan geteken om die stoep…
Ek skryf hierdie projek in namens my pa (83). Dit het begin toe ek een Sondag noem hoe lekker dit sou wees as die ou metaal-vuurput meer sentraal kon wees, en die bestaande braaiplek eerder kan skuif na ’n ander deel van die stoep. Binne ’n week het hy ’n plan geteken om die stoep uit te bou vir ’n gesellige kuierplek met geboude sitplekke rondom ’n geboude vuurput. Daar is ook ruimte gelaat vir die tafel en stoele, asook ’n nuwe pizzaoond.
Die spasie was voorheen die agterstoep wat uit die kombuis en braaikamer gelei het. Dit was bedek met terracotta-teëls en ’n houtdek het daarby aangesluit. Oor die geteëlde deel was ’n afdak met skadunetblindings wat aan twee kante kon op- en afrol as beskutting teen son en wind. ’n Groot deel van die tuin was uitgelê met klippies en blokke; laventel het rondom die fontein gegroei en my pa het groentetuin gemaak in selfgeboude bokse.
My pa het besluit om ’n bedoeïentent oor die spasie te laat span, pleks van ’n afdak te bou. Planne is gefinaliseer en ’n kontrakteur is gekry om die bouwerk te doen; laasgenoemde het ook die materiaal aangekoop en gesorg dat die bourommel verwyder word. Nadat die bestaande stoep en afdak afgebreek is, het die bouery in alle erns begin. Die nuwe (geboude) vuurput het ’n staalbak wat knus daarin pas om skoonmaakwerk te vergemaklik; binne-in pas ’n tweede staalpan vir daardie tye wat mens sommer vinnig iets op die oop vuur wil gaarmaak – dit lig die vuur effens vir gemaklik sit en braai.
Weens die verbouing moes die hele agtertuin ook verander. Pa het sy groentetuin geskuif en ons het kunsgras in een deel gebruik vir ’n vars groen kleur wat mooi kontrasteer met die warm, aardse verfkleur (Dulux Rough Hewn) van die huis. Die bestaande fonteintjie van dwarslêers moes ook skuif. Die pizzaoond is volledig in die fabriek gebou en toe deur die verskaffer geïnstalleer; daaronder is ’n ruimte agter deurtjies met bêreplek vir die Weber en ander braaitoerusting. Pa het die deurtjies self gemaak met planke van die ou dek; hy het die stoepvloer geverf met ’n mengsel van groen en swart oksied vir die tipiese voorkoms van ’n outydse kombuisvloer. Die vloer is geseël met Woodoc 45. Verder het hy die hout van ou vensterrame gebruik om die vullisdromme te verbloem.
Beligting is aangepas met ’n hooflig oor die tafel, voetligte in die geboude banke en ’n buitelig by die pizzaoond. Die lig bo die tafel hang aan ’n staalarm wat teen die muur vasgebout is. Die elektriese kontrakteur wat die ligte geïnstalleer het, het ook die kragpunt vir die fontein geskuif en nog ’n kragpunt in die kas onder die pizzaoond geïnstalleer.
Die doelgemaakte tent, met ’n versterkte opening vir die pizzaoond se skoorsteen, is gespan. Die geboude banke het kussings gekry, terwyl rottangstoele uit die huis vrolike nuwe kussings gekry het en buitentoe geskuif is. Die tafel se pote is geverf om by die res van die dekor te pas.
Hierdie veranderinge het vir ons ’n heerlike buiteruimte geskep waar ons lekker groot familiekuiers gesellig saam kan geniet, somer en winter.
Budget Breakdown:
Stene, sement en ander boumateriaal is deur bouer aangekoop
23495
|
Staalbak vir vuurput
2158
|
Staalpan vir vuurput
1064
|
Staalarm vir hooflig oor tafel
534
|
Hooflig oor tafel
1279
|
Voetligte (5)
1775
|
Lig by pizzaoond
369
|
Kussings vir banke en rottangstoele
11890
|
Oxide Powdered Pigment Black & Green
829.07
|
Woodoc 45 Clear Matt
799
|
Onderlaag vir nuwe mure
870
|
Dulux Base-verf vir nuwe mure
2692
|
Dulux Rough Hewn (oorgebly nadat mure onlangs geverf is)
0
|
47754 |
Contractors:
Blomofu Construction (bouer)
24190
|
IMF Projects (elektriese kontrakteur)
8887
|
Firefrog (pizzaoond)
13677
|
Dimensions Tent (doelgemaakte tent)
57030
|
Artificial Grass Helderberg
26000
|
129784 |
Grand Total R177538 |