Karin Brink


About the Project:
Ons woon 8 km buite Klerksdorp op ‘n kleinhoewe met ‘n sementdam wat in onbruik was. Vir jare het ons gesê ons gaan dit omskep in ‘n rondawel, maar dié planne het nooit van die grond af gekom nie… tot verlede jaar. Die hele projek was van die begin af daarop gemik om dit so…
Ons woon 8 km buite Klerksdorp op ‘n kleinhoewe met ‘n sementdam wat in onbruik was. Vir jare het ons gesê ons gaan dit omskep in ‘n rondawel, maar dié planne het nooit van die grond af gekom nie… tot verlede jaar.
Die hele projek was van die begin af daarop gemik om dit so goedkoop moontlik te doen. Dit was ‘n lekker uitdaging wat ons meer kreatief en innoverend moes laat dink.
Die dam se rande was toegepak met klippe en grond wat dit amper onsigbaar gemaak het. Die eerste groot werk was dus om met ons buurman te reël dat hy met sy laaigraaf die klomp klippe en grond verwyder. Daarna het ons kwotasies gekry vir dakke, waarvan die grasdakkwotasie die goedkoopste was.
Na die grasdak staangemaak is, het ons bouers begin soek wat die damwal tot by die dak kon opbou teen ‘n billike prys. Hulle moes ook ‘n paar binnemure bou wat die kamer, badkamer en opwashoekie sou afskort. Dit is hier waar ons herinner is aan die ou gesegde “goedkoop is duur koop”. Die bouwerk was slordig, die mure was skeef en die afwerking was nie op standaard nie.
Die plan was om die mure nie te pleister of te verf nie, maar die natuurlike bakstene net so te hou. Aangesien die bouwerk nie op standaard was nie, was ons genoodsaak om van ander bouers gebruik te maak. En die enigste oplossing om die bouwerk te verbeter, was om sekere mure te pleister en te verf. Die nuwe bouers het ook die klipmuur om die stoep met die aangrensende braai-area vir ons gebou, asook die kombuiskaste.
Ons het die vloer net afgevlak en self ‘n seëlaar daaroor aangewend. Die nuwe kombuiskaste is ook geverf en verseël. Die enigste binnedeur in die rondawel is die een wat die leefdeel van die slaapkamer skei. Ek wou graag van die deur ‘n fokuspunt maak sodat mens amper nie moet agterkom dat daar ‘n deur is nie. Vir dié doel het ons ‘n prent van Frida Kahlo laat druk op skilderdoek, en dit op die deur geplak.
Vir die stortafskorting het ons ‘n houtraamwerk gebou, dit met sinkplate bedek en geverf. Ons het dieselfde gedoen om die opwashoekie van die kombuis af te skort. Bo die wasbakke in die opwashoekie het ons kurkteëls geplak en dit omraam met ou dennehout wat vir jare ongebruik in my man se werkskamer gelê het. Gedagtig aan die baie kleurvolle deur in ‘n oopplanvertrek waarvan die kombuis ook deel was, wou ek graag dieselfde kleure bo die kombuiskaste herhaal met teëltjies. Ek het ‘n paar effekleurige teëls gekoop en die res self gemaak deur glasteëltjies met bont lap te découpage en met hars te verseël.
Die kaggel het vuil en verroes by ‘n vriend in die veld gestaan en hy het dit verniet vir ons gegee. Dié vriend is later tragies aan Covid oorlede, maar ons koester sy kaggel met mooi herinneringe. Die badkamerkaste was ou houtkaste wat ons wit geverf en afgerond het met nuwe handvatsels en ‘n nuwe blad. As wasbak het ons ‘n groot metaalmengbak by die plaaslike Chinese winkel gekoop en net ‘n gat daarin geboor vir dreinering. Die handdoekrakkie teen die muur was oorspronklik in die tuin, met potplante daarop.
My man het self die afdak op die stoep gebou en latte aan die een kant gesit om dit meer privaat te maak. Verder het ons stringligte opgesit (ook by die Chinese winkel gekoop).
Ou kaste uit my man se kantoor is in die slaapkamer ingebou; hy het enkele rakke aan die een kant verwyder om klerehangplek te skep.
Aangesien dit op ‘n kleinhoewe is, was een van die ander groot uitgawes die aanlê van krag van die Eskom-punt af; ons moes ook ‘n septiese tenk koop en installeer. Die watertenk was ‘n bestaande een wat ons net daarheen geskuif het; my man het self die waterpype aangelê en gekoppel.
Ná al ons harde werk, kreatiwiteit en toewyding is ons aangenaam verras deur die eindresultaat van ons eie selfdoenprojek. Hierdie aangepaste rondawel weerspieël ons unieke styl en persoonlikheid, en dit is ‘n plek wat ons trots “tuis” kan noem.
Ons geniet elke oomblik van hierdie avontuur en is dankbaar vir die geleentheid om ons eie stukkie paradys op die kleinhoewe te kon skep.














Budget Breakdown:
Deure en vensters
14406
|
Sand en sement
7020
|
Verf en vernis
4503
|
Laaigraaf
2500
|
Ligte
3141
|
Ander: plafonne, teerpale, skroewe, dakplate, ens.
48871
|
Septiese tenk
5200
|
Watertenk
0
|
Gasstoof
3895
|
89536 |
Contractors:
Grasdak: H&L
78000
|
Bouwerk: verskeie bouers
83600
|
Loodgieter: Hendrik
11832
|
Kaggel insit en verlenging van skoorsteen
5320
|
Elektriese installasie en kragkabel
26638
|
Skadunet vir motorafdak
2500
|
Huur van houer vir bourommel
450
|
Koskas, rakke en spieëlkas: Must Have Trading
6000
|
214340 |
Grand Total R303876 |