Lefras Uys

before_image
BEFORE
after_image
AFTER
Name: Lefras
Surname: Uys
Location: Birdhaven, Johannesburg, Gauteng
Entry Date: July 1, 2024
Category: Most Beautiful
Project: Entire House

About the Project:

In die skadu van die jakarandas in een van Johannesburg se oudste en gesogste buurte is daar ’n pragtige, goed versorgde 74 jaar oue woonstelblok. Die woonstel waarna ek gaan kyk het, het maar veel te wense oorgelaat. Dit was oud, afgeleef, en die badkamer en kombuis het potensiële kopers afgeskrik. Daar was heelwat onnodige…

Read More

In die skadu van die jakarandas in een van Johannesburg se oudste en gesogste buurte is daar ’n pragtige, goed versorgde 74 jaar oue woonstelblok. Die woonstel waarna ek gaan kyk het, het maar veel te wense oorgelaat. Dit was oud, afgeleef, en die badkamer en kombuis het potensiële kopers afgeskrik. Daar was heelwat onnodige mure en deure wat dadelik sou moes waai om dit ’n oop gevoel te gee. Die woonstel het wel my verbeelding aangegryp, aangesien dit baie by my dekorstyl sou pas. Al die ruimte en rooshoutparket het dadelik my hart gesteel – so ook die lieflike buurt met sy fantastiese parke en uitsigte. Die abnormaal groot tuin vir ’n woonstel was nog ’n verkoopspunt! Alhoewel ek ’n kontrakteur gehad het vir die groot items, het ek baie van die werk self gedoen (soos die voorbereiding en verf, teëls afkap, die ou kombuistoerusting self verwyder). Ek het alles op ’n knap begroting gedoen en moes seker maak dat ek die volle 123 m² optimaal benut om by my leefstyl en behoeftes te pas. Vir die elektrisiteit, teëlwerk, ensovoorts, het ek onafhanklike kontrakteurs gebruik (aangesien ek vol strooi is, is heelparty van hulle baie vinnig vervang).

Die grootste fout wat ek wel begaan het, was om in die woonstel te bly terwyl alles gebeur het. Jou lewe kan nogal moeilik raak sonder ablusiegeriewe of ’n kombuis. Die kombuis het vier generasies vloere bo-oor mekaar gehad en die agterdeur, gang en kombuisdeur het onnodige plek opgeneem. Dit is alles uitgebreek, maar die elektrisiteit en vermiste vloerblokkies was ’n uitdaging. Gevolglik is die diensingang nie toegebou nie – net kaste bo-oor geïnstalleer en die spatpaneel oor die deur geteël! Omdat die kombuis klein is, moes ek die spasie goed benut met ’n spens in die hoek. Ek hou van TV kyk terwyl ek kook, daarom wou ek die stoof presies hê waar dit voorheen was – maar die stoom sou probleme veroorsaak! ’n Dakwaaier was die perfekte en mees kostedoeltreffende oplossing, wat ook geen geluid maak soos gewone suigwaaiers nie.

Die badkamers sou aanvanklik ’n maklike projek gewees het, maar toe kom ons agter die ysterpype is almal op hul laaste. Dié loodgieterswerk was toe die grootste onvoorsiene uitgawe. Ek wou die badkamer ’n mid-eeuse gevoel gee; die oorspronklike vinielteëls is vervang en ’n bal-en-kloutafeltjie is as badkamerkassie gebruik. Die leefvertrek, badkamers, slaapkamers en kombuis is afgewerk met plafonlyste, terwyl nuwe paneelwerk teen die mure karakter en warmte in die hoofslaapkamer en leefvertrek verskaf.

In die lig van my Hollandse afkoms en die woonstel se Europese gevoel, en omdat ek lief is vir kosmaak (ek bedryf ’n deeltydse spysenieringsaak buiten my voltydse beroep), is die woonstel “The Frying Dutchman” gedoop. Dis ’n knus, warm, gasvrye en interessante spasie waar almal altyd welkom is.

Ek het ’n interessante dekorstyl, met verskillende geleende elemente. Ek sou dit kon beskryf as “Hollandse plaashuis”, maar met interessante temas in die onderskeie vertrekke: vyftigs-kitsch in die studeerkamer, 1960’s-Palm Beach in die sonkamer, en die hoofslaapkamer soos ’n toneel uit Taylor Swift se Wildest Dreams-musiekvideo! Voëls as tema strek regdeur die huis. Die badkamers het ’n plaasgevoel ter ere van my tuisdorp, Albertinia, met sy aalwyne en groenigheid. ’n Nat, muwwe wasgoedhoekie met die oorspronklike warmwatersilinder was ’n seeroog aan die einde van die gang – toe het ek ’n loodglasdeur uit ’n 1932-Parkwood-woning daar geïnstalleer as fokuspunt.

Daar is nog baie wat gedoen moet word. Ek soek steeds na die perfekte ligte en wil ook al die vensterrame vervang met opvoudeure.

Budget Breakdown:

Materials:
Verf
6950
Verfhulp
3150
Bad
9400
Stortteëls
3500
Teëlsement
760
Badkamerkrane en bybehore
13500
Wasbakke
1500
Toilette
5400
Badkamerkassie
1200
Plafonrose
900
Elektriese toebehore
794
Vloerlys en prentelys
2400
Vinielteëls en gom (badkamer)
2008
Kookblad en oond
9999
Kombuisteëls
4157
Kombuiskraan
1700
Kombuiswaaier
1450
Muurpapier
4600
Gordynrelings
1350
Binnedeure en knippe
6600
Allerlei
1738
Kombuistoonbanke
16980
Kombuiskaste
67000
Kombuisvloer
3180
Kombuiswasbak
1450
Stortvloerteëls
1200
Plafonlyste
3425
176291

Contractors:

Algemene kontrakteur (loodgieterswerk ingesluit)
62500
Verf en ander hulp
3150
Elektrisiën
1350
Teëlwerk
3400
Skrynwerker
70400
Grand Total
R246691