Suzanne Venter

before_image
BEFORE
after_image
AFTER
Name: Suzanne
Surname: Venter
Location: Stella, Noordwes
Entry Date: July 15, 2024
Category: Most Beautiful
Project: Bathroom

About the Project:

Ek en my verloofde, Gerrit Nel, bly op ’n plaas net buite Stella in Noordwes saam met ons drie bokserhonde Ben, Nushka, Toula, en ons kat, Prinses (en ja, sy is een…). Ek het so vier jaar terug plaas toe getrek vanaf Johannesburg. Ek en Gerrit het mekaar op universiteit in Potchefstroom ontmoet en 21…

Read More

Ek en my verloofde, Gerrit Nel, bly op ’n plaas net buite Stella in Noordwes saam met ons drie bokserhonde Ben, Nushka, Toula, en ons kat, Prinses (en ja, sy is een…).

Ek het so vier jaar terug plaas toe getrek vanaf Johannesburg. Ek en Gerrit het mekaar op universiteit in Potchefstroom ontmoet en 21 jaar later weer bymekaargekom. Die plaas is lekker, maar was ook ’n groot aanpassing. Alles hier is moeiliker en stadiger, en die huis waarin ons bly stokoud en kort baie werk. Ek het die perfekte woonstel in Johannesburg gehad en so gewens ek kon die huis ook so mooi regmaak, maar dié huis is groot en dit gaan duur wees om op te knap. Die opsies hier is ook maar min; daar is eenvoudig net nie groot winkels en wye keuses van produkte naby nie. Die groter stede en dorpe soos Johannesburg, Potchefstroom en Bloemfontein is vyf tot vier uur se ry ver.

Die en suite-badkamer by ons kamer was van die begin af vir my die grootste uitdaging van alles waaraan ek moes gewoond raak op die plaas. Dit was een van daai tipiese roomkleurige badkamers uit die tagtigerjare, met sulke veldblommetjies hier en daar op die teëls geverf. Van die teëls was los en het reeds op baie plekke afgeval. Daar was ’n klomp vreemde muurtjies en strukture, en ’n hele ry roomkleurige kaste. Omtrent al die stortteëls was af, en die deur stukkend. Die vloerteëls, ook roomkleurig, het nie lekker gepas nie… Dit was ’n nagmerrie en dit het vir my gevoel of ek vassit in ’n badkamer uit my kinderjare.

Toe breek ’n waterpyp in een van die badkamermure, wat water by die muur laat deursyfer het. Dit was ’n reusegemors! Hier is ook nie loodgieters wat jy kan bel om “gou” die probleem te kom uitsorteer nie.

Ek het toe gehoor van Karel Minnie, ’n bouer wat goed is met sulke probleme. Karel moes die muur agter die bad oopkap. Ons het glad nie geld gehad om die hele badkamer reg te maak nie, maar ek het vir Gerrit gesê dit gaan ook nie sin maak om die ou stukkende teëls weer terug te plak nie. Toe besluit ons om die hele badkamer oor te doen.

Ek is mal oor kleur, terwyl Gerrit van meer neutrale goed hou. Ek het al vir maande gekyk na idees vir die nuwe badkamer en geweet ek wil verskillende kleure teëls hê wat ons afwissel met wit, hout, sement en dalk groen – nie net omdat dit mooi is nie maar ook omdat dit mooi inskakel by die natuurlike omgewing.

Al die ou teëls en strukture moes af- en uitgekap word en al die pype weer aangelê word. Karel en Cedric, wat hom help bou, was baie deeglik, maar dit het lank gevat.

Die groter wit bad, wasbakke, krane en toilet kon ek kry by Sarba-loodgieters in Vryburg, wat uitstekende produkte aanhou. Die laaie van die akkerhoutkassie was deel van ’n rak wat ek by ’n tweedehandswinkel raakgeloop het. Frans Kruger, ’n houtwerker van Vryburg, het toe vir my die boonste deel gebou en die laaigedeelte onderaan gelas. Toevallig is akkerhout taamlik goed bestand teen vogtigheid en hoewel dit nogal duur was, was dit die belegging werd. Dit sal nog jare mooi lyk in die badkamer.

Die wasbak se pype loop deur die boonste deel van die kassie; dis agter deurtjies en ons gebruik die ruimte om al ons vuil wasgoed te bêre totdat dit gewas word. Dit werk briljant.

Ek het oral gesoek na teëls en op die ou end die regtes op Italtile se webtuiste raakgeloop – nie net die gekleurde teëls nie, maar ook die sementteëls vir die vloer. Dis vir my belangrik dat dekor prakties moet wees. Natuurlik moet dit mooi ook wees, maar funksionaliteit is belangrik. Die sementteëls is 1,2 x 1,2 m groot en glyvas. Dit was ideaal, want ek sou sementvloere verkies het, maar hier is niemand wat dit professioneel kon doen nie.

Ek het per Whatsapp met Sandy van Italtile begin gesels en sy het my met al die teëlkeuses gehelp. Hulle kliëntediens was uitstekend; een van hul drywers het vir meer as vyf uur plaas toe gery om al die teëls hier te kom aflaai. En almal was in een stuk!

Ek het spesifiek die klein wit mosaïekteëls vir die stort en ander dele van die muur gekies sodat die vierkantige vorm herhaal word. Ek voel dis belangrik vir balans as ’n mens iets so kleurvols soos dié badkamer aanpak. Die basiese vorms moet dieselfde bly en ek het die wit afgewissel met die groen mure om die gevoel van ’n kleurblok te skep saam met die gekleurde blokkies.

Die houtrakke wat Frans bo die spiëel en die bad opgesit het, dra ook by tot balans. Ek sou graag die lelike diefwering wou verwyder, maar dis te riskant in dié stadium. Op ’n plaas is veiligheid die belangrikste en vensters moet toegemaak word. Ons wag nou vir ’n wit Venesiese blinding om die lelike diefwering te verbloem terwyl dit steeds genoeg lig sal deurlaat.

Ons is ongelooflik tevrede met die resultaat en ek skryf ons badkamer in vir die kompetisie omdat dit ’n uitdagende projek was in die lig van die area waar ons bly – hoewel dit nooit moet beteken dat jy tevrede moet wees met tweede beste nie.

Ek het in die proses ook geleer hoeveel wonderlike mense daar op die platteland is, soos Karel en Cedric wat weekliks hul huise in die township buite Stella moes verlaat vir ‘n moeilike bouprojek wat hulle nie ondergekry het nie. En hulle is so trots op hulle handewerk! Daar’s ook Adel van die loodgieterswinkel, wat saam met my opgewonde geraak het oor al die planne; Frans wat uitstekende houtwerk gedoen het, en Lynn van die ysterwarewinkel wat altyd gereed was om te help, altyd vriendelik en altyd opgewonde oor die vordering.

Ons badkamer is nou presies net soos wat ons hom wou hê. Dis waarskynlik ook een van die kleurvolstes in Noordwes en vir ons bring hy daagliks vreugde.

** Omdat dit nie van die begin af van plan was om die badkamer oor te doen toe die pyp in die muur gebars het nie, het ek nie doelbewuste “voor”-foto’s geneem nie, maar glo dié wat ek aanheg sal ’n goeie idee gee.

Budget Breakdown:

Materials:
Muur- en vloerteëls
64808.30
Houtkas en houtrakke
8100
Bad, wasbakke, krane, stortkop
11700
Stortglas
2500
Handdoekrelings en stortstut/handvatsel
2800
Verf
6000
Lig (het gehad)
0
Plante (het gehad)
0
95908

Contractors:

Karel Minnie
22500
22500
Grand Total
R118408