Tian Roelofse
About the Project:
Hoewel my hart eintlik op die platteland lê, hou my werk my stewig vas in die Goudstad. Dit is dié dat ek besluit het ek gaan my plaashuis in die stad bou. Toevallig kom ek af op ’n vervalle ou huis uit ’n bestorwe boedel om die draai van my woonstel – kompleet met boorgat…
Hoewel my hart eintlik op die platteland lê, hou my werk my stewig vas in die Goudstad. Dit is dié dat ek besluit het ek gaan my plaashuis in die stad bou. Toevallig kom ek af op ’n vervalle ou huis uit ’n bestorwe boedel om die draai van my woonstel – kompleet met boorgat en al. Ek sit ’n nag om en skribbel aan die planne by die piepklein kombuistoonbank. Daai nag hou die opwinding my slaap weg en ek weet: Maak die aanbod! Dit is tyd dat jy ook jou Tuis-te kry, kompleet met skrootwerfvondste, kreatiewe idees en al.
Dit was omtrent ’n uitdaging om die projek op dreef te kry terwyl ek by ’n nuwe werk begin. Die bouspan moes sekerlik gelag het oor die blinkgepoetste skoene wat vroeg soggens en saans na werk daar in die stof gaan rondploeter het – dit alles met ’n Fiat 500 as boubakkie! Tog was dit heerlik om die sketse te sien vorm aanneem terwyl ek eerstehands daai bou-ervaring kry waarna ek so gesmag het (as ek maar geweet het wat wag…)
Terugslae was daar oorgenoeg, met vandalisme sekerlik die ergste een. Vanweë sy ouderdom moes die hele huis ten duurste herbedraad word. Dit verloop toe redelik goed – tot die kabels uit die mure gesteel word en die elektrisiën die pad vat. Toe staan die skrynwerker, teëlaar en kombuismense vir mekaar kyk en niemand kan werk sonder krag nie. En ek is te skrikkerig om weer die drade in te sit voor die perseel heeltemal veilig is – wat natuurlik ook krag benodig. Dié hoender-en-eier-situasie is toe skielik te veel vir die plaashuis! Met kragopwekkers, my lewensmaat se ondersteuning en genade kom ons toe ook daardeur. Net betyds vir die afwerkings wat baie langer neem as waarop enigiemand jou kon voorberei…
Ma sê al vir jare dat niks wat die moeite werd is, sonder moeite kom nie. Daardie laatnag- bouplan is vandag my realiteit. En met elke vuurtjie wat in een van die (nou 3) vuurmaakplekke aangesteek word, is my bors vol trots as ek met heimwee terugdink aan wat hier vermag is – ook die verhoudings wat in die proses gebou is. My hart woeker steeds plaas toe, maar vir eers bly ek nou heerlik in die stad!
Foto konteks:
Voor
1. Die oorgroeide tuin was ’n goeie aanduiding van die huis se leegstaanstatus en het afbreuk aan die hele aansig gedoen.
2. Die leefarea het bestaan uit 4 kleiner vertrekke, elk met hul eie vloeroppervlak. Die buitelyne van die vertrekke en oorblyfsels van die ou kombuis is duidelik sigbaar.
3. Die binnehof in die agterplaas was heeltemal verlore agter die venster.
4. Die voorportaal was onnodig klein. Hier kan die ou muur in die middel gesien word voor die dak verleng is.
5. Die badkamer het deurgeloop onder ’n lekkende geiser – vandaar die patroon om die uitsakkende plafonborde te verbloem!
6. Die groot sonstoep sonder ’n braaiplek was bloot ’n sonde.
Na
1. Die dakkappe is verkort vir ’n meer moderne voorkoms, met vetplante en ’n monochroom palet om die vooraansig af te rond.
2. Die oopplan-leefarea sonder plafon skep ruimte en ’n lieflike onthaalplek. Die afwerking bly aards, met hout, leer, sement en staal. Die emaljeligte was ’n gelukkige vonds!
3. Die venster is vervang met ’n dubbeldeur wat die sonsondergang vertoon en maklike toegang tot die kruietuin gee uit die kombuis.
4. Die groter voorportaal verwelkom gaste met die intrapslag en bind die twee dele van die L-vormige huis mooi.
5. Die badkamer het ’n monochroom palet om by die buiteruimte te pas.
6. Die sonstoep het sy braaiplek gekry – ’n afdak met Mexikaanse inspirasie en ’n stapeldeur vir mooi dae of onthaal. Op die voorgrond is ’n boma vir bosveld-geïnspireerde vure.
Budget Breakdown:
Blindings
3500
|
Boumateriale
101000
|
Deure en vensters
34000
|
Elektriese werk
54000
|
Isoboard-plafon
13100
|
Kombuis en kamerkaste
127000
|
Ligte
7000
|
Parketvloer herstel
8050
|
Loodgietersware
10200
|
Sanitêre ware
16350
|
Teëls
33600
|
Landskapwerk
57200
|
Verf en afwerking
41200
|
Vullisverwydering
6800
|
513000 |
Contractors:
Bouer
134800
|
Skrynwerker
4800
|
Loodgieter
14600
|
154200 |
Grand Total R667200 |